Dit is 14:00, ’n salige stilte sak met ’n tevrede sug op Beaufort-Wes neer. Die voordeurklokkie van my huis lui. Voor die deur staan hy, half-skeef, met ’n skeeloog, reg, gereed. Hy het lank gedink aan die storie wat hy my wil vertel. Sy uiteindelike rede en doel is om geld te bedel. Om dit reg te kry, moet hy my eers emosioneel betrokke kry. My vertel van sy probleme, sy sorge en sy pyne. Die tekort aan liefde en mense wat nie omgee nie. Ryk mense wat niks voel vir arm, bedelende Suid-Afrikaners wat sterk na drank ruik op ’n stil Sondagmiddag.....
My rede weer vir die skryf van die storie getiteld: “Spoortjies in die Sand” – ek het ook lank gedink – miskien om my vriende te vertel hoe lekker die lewe met swaarkry kan wees - hoe maklik en onwetend ’n mens spoortjies trap in die sand van die lewe.
Alles het begin toe Karina (my sussie) my gebel het, om te vra of ek saam met hulle wil gaan stap op die “Whale Trial” by die De Hoop Natuurreservaat naby Bredasdorp.
Pragtige plek, teen die voet van Potberg, staan ’n netjiese hut met braaigeriewe, sonpanele, warm water, gasverhitting, spoeltoilette en oulike ysterhake teen die mure ingemessel. Daar is altesaam 12 slaapbanke met matrasse, skoon, gemaklik en daar is oorgenoeg hout vir ’n lekker braai.
Die geselskap vlot gemaklik alhoewel ons mekaar vir die eerste keer ontmoet het. Vroegaand word ingekruip, dit reën, ek moet opstaan om oorproppe in te druk want iemand snork harder as ’n vuvuzela se blaas in ’n sokkerstadion tydens die wêreldbeker.
Die volgende oggend vroeg klap motordeure. ’n Man en sy vrou kom aangestap. Die vrou lyk om die minste te sê, gatvol en dikbek. Dis toe dat ons hoor dat hulle die heel nag vlak langs die hut in die kar geslaap het, want hulle het nie geweet of dit die regte plek was om te bly nie!
1ste dag: Potberg na Cupiodoskraal = 14km
By Potberg kry ons ‘n lesing van een van die parkmeisies oor reëls en regulasies. Watter plante, diere en insekte om voor uit te kyk. Veral die informasie van hoe om jou broek los te maak in die veld en hoe jy die uitwerpsel met ‘n stokkie moet omroer na die tyd was baie leersaam, amusant en abnormaal.
Deur die Bloekombos, teen die berg uit, vat ons die moeilikste roete sonder opwarmingsoefeninge. Ek is een van die min wat al my eie goed dra. Die ander het hul bagasie met die parkbakkie, teen ’n redelike vergoeding na die volgende hut gestuur. Ons is gemotiveerd – ek met my “army boots” is die enigste met ’n langbroek en ’n stapstok. ’n Motreën volg ons kronkel-kronkel vanaf 128m bo seevlak soos ons hoër hyg na die bopunt van 655m. Een van die stappers het ‘n GPS en verwittig ons gereeld hoe ons nie vorder nie. Gou word die streep mense teen die hang al verder van mekaar verwyder. Ek sien een van die min slange van die roete.
Daar is ongelooflik baie voëls om te sien. En ek, ek steun die steil paadjie uit, skuifel, hygend, swetend, voetjie vir voetjie deur die pragtige natuurskoon met proteas wat blom, met ’n swaar kussing en verkyker wat ek byna nooit gebruik het nie.
Bo teen die berg, waar die skaars Kaapse Aasvoëls draai, rus ons en kyk met verwondering na die Breedevallei aan die een kant en die golwende groen heuwelagtige landskap van De Hoop Natuurreservaat aan die ander kant.
Op ’n stadium steek ’n vrou vierkantig voor my in die paadjie vas – onder die indruk dat haar man reg agter haar is, ontbloot sy haar babasagte rug – want ‘n ding is besig om haar te byt. Haar man wat intussen ’n “pap wiel” gekry het – is so ver agter dat ek toe maar met graagte die nooi uit haar nood probeer verlos. Eers na ‘n vreeslike gevroetel, gevatery en gesoek na die gogga kom die man ook daar aan en ontdek die vrou vir die eerste keer die ‘duiweltjie’ agter haar, wat sy dog haar man is. Middagete was stil en rustige by die Klipfonteinspruit. Die reën jaag ons die bult daar uit saam met die steekvlieë. Die laaste 2 km is uitputtend. Hang op, hang af tot by die hut onder in die vallei by Cupiodoskraal wat soos ‘n eiertjie lê in ‘n voëlnes.
Die aand staan die mans om die vuur en stry oor politiek, rugby en veral die definisie van demokrasie. Die vrouens koer en skinder op die bankie teen die muur. Almal gaan slaap redelik vroeg, die een helfte omrede hulle uitgeput is, die ander omrede hulle moet. Hier kom ‘n mens ook baie vinnig agter, moet jy jou trots en inhibisies in jou sak steek, want terwyl jy onder die sterre kliphard jou ding op die toilet doen, stort ’n vreemde vrou langsaan dat die seep so spat. Afrika is rof en onbeskof!
2de Dag: Cupiodoskraal na Noetsie = 14km
Die roete begin onder in die vallei en laat jou eers weer tot bo-op die plato klim. Dan volg ’n maklike en gelyk stuk, voor jy steil bergaf stap vir die laaste 4-5 km deur die bosse na Noetsie by die see. Die son is al uit toe ek tradisioneel eerste opstaan en vir die ander koffie vat in die bed en begin pak.
Ek stap eerste. By die rivier besluit ek om met ’n dik stomp bo-oor die rivier te loop. Daar is ’n tou waaraan jy kan vashou. Anders moet jy afloop en onder deur die rivier en deur die water gaan. Halfpad verloor ek egter my balans, kom met ‘n skok agter die tou is los en pap, hang soos ‘n vink in die lug, half onderstebo, kierie in die hand, rugsak met die verwenste swaar kussing wat my aftrek. Geforseer om soos ‘n geitjie teen ’n muur te klou, skuifel ek vertikaal, handjie vir handjie, swetend en swetsend tot aan die ander kant. Gelukkig is die ander so ver agter dat hulle my ongemak en verleentheid nie kon sien.
Teen die hang sien ek ‘n groot Elandbul, word gedwing om vinnig verder te klim toe die steekvlieë my weer begin steek – en die kussing is swaar, en die verkyker is swaar en die berg is steil en my wit rolbalhoed kry ‘n bruin kleur van al die sweet. Maar, dis lekker, ‘verskriklik’ lekker om te ‘suffer’ met jou ‘army boots’ wat skaaf en druk.
Die laaste 2 km was vir my die swaarste van die hele tog – met bobbejane wat rondom my skree – loop ek uitgeput en kop omlaag en dit voel of die eindpunt nie wil naderkom nie – en dan begin jy dit sien – die spoortjies in die sand. Party skeef-skeef oor die paadjie, ander huppel ligvoets – elke diertjie, goggatjie, voëltjie – elkeen los sy eie spoortjie – ingeëts vir die oomblik in die sand van die kortstondige lewe – en ek trap ook my spoor – eenmaal op die plek – beurend vorentoe – skeef-skeef, om nooit weer daar te trap nie - voor tyd dit rustig met sy wind van die natuur doodvee – en my alleen laat met net die vae herinneringe van die hier en die nou en die verlede.
Noetsie is ’n pragtige plek. Branders breek skuim-spoegend oor die rotse voor ’n eensame hut. Terwyl ons in die poele rondlê en afkoel, beweeg een van die mans, “The Last Great White Hunter” met sy kettie sluipend om die hut om die muis te skiet wat al lank voor ons koms sy blyplek in die kombuis gemaak het.
Onvergeetlike aand by die pragtige braaiplek langs die see. Die maan is vol, die see suis in jou oor terwyl vlamme lek-lek en gryp in die lug. Dan daal ‘n onbeskryflike rustigheid oor jou, maak jou spiere pap en ontspanne – vergete is die gejaag van die samelewing – jou oë val toe.
3de dag: Noetsie na Hamerkop (10km)
Die roete is korter, al langs die see, oor rotse en klippe, verby menige grotte. Die spoortjies in die sand raak al meer - miere, diere, goggas, muise, skilpaaie, slange, koggelmanders, likkewane en nog baie ander het deur die nag en vroeë oggend gehardloop, gejag en gegrawe. Elkeen besig met sy eie oorlewing. Wie die vinnigste hardloop, oorleef. Wie die stadigste hardloop eet nie, of word self geëet. In hul eie wêreld ’n gejaag na vang en om nie gevang te word nie, amper dieselfde as ons wêreld – nou ver verwyder en ver van ons wat rustig stap in die natuur.
Halfpad moet jy teen die “Chain ladder” afklim na ’n snorkelplek en eetplek tussen die poele en onder die bakkrans teen die see. Daar is minder steekvlieë en ons vertoef langer as ’n uur. Terwyl die ander snorkel en in die son rondlê, verken ek en een van die mans die grotte met my ”penlight” flitsie. Twee grotte strek sowat 50m onder die kranse in. Ons het heelwat vinniger uitgekom as wat ons ingegaan het toe ons diep in een van die grotte se tonnels, twee groot geel oë sien blink het.
Net voor Hamerkop pomp ons mans ‘n bietjie adrenalien deur oor ’n stomp te struikel, skuifel oor ’n hoë afgrond. Dan is ons op die oop strand vir die laaste kilometer na die hut. Op die strand tref ons ‘n brandmaer pikkewyntjie aan, kop teen die grond, hol in die lug. Een van die mans probeer naam maak by die vrouens toe hy op hul aandrang – met ‘n vreeslike gesukkel die pikkewyntjie weer in die see kry. Die siek pikkewyn het hy op ander plek uitgeswem om rustig en in vrede te kan sterf – weg van die mense wat ‘n siek pikkewyntjie elke keer wil teruggooi in die see.
Die hut by Hamerkop is pragtig ontwerp en lê teen die rant agter die duine. Daar is nou wel skerpioene in die huis, maar gelukkig is ek nie gesteek nie - het hom betyds van my klere afgeklap. Iemand ontdek ’n dik toegespoelde skeepstou op die strand en begin soos ’n besetene die tou oopgrawe. Later is al die mans besig om soos meerkatte agter die tou aan te grawe – sonder sukses en tot groot vermaak en belangstelling van die vrouens wat bo van die balkon die petalje staan en dophou.
Eers probeer ons die tou met ‘n byltjie afkap, sonder sukses. Dit was eers toe ons hout optel en ‘n groot vuur maak dat ons ’n 10m lange tou kon afbrand sodat een van die mans soos ’n kaalbors Rambo die tou soos ‘n trofee kon opdra om oor die balkon te drapeer. Een getroude paar braai vir hom en sy vrou ’n heerlike gerookte rib terwyl die ander watertand en jaloers toekyk en in stilte hul smaaklose blikkieskos eet.
4de dag: Hamerkop na Vaalkrans (14km)
Dit is warm, daar is baie steekvlieë maar die uitsig is ongelooflik oral langs die roete. Halfpad rus ons by ‘n plek waar die water deur ’n gat spuit en ’n onaardse geluid maak, elke keer as die branders breek. Almal is in die poele om af te koel, alhoewel van die vrouens so gegil het van die koue water dat die geskree van die seeduikers en seemeeue verbaas stil geword het. Die Kaapse fynbos groei ongestoord golwend oor die duine, met allerhande soorte koggelmanders met verskillende kleure en patrone wat nuuskierig uit hul gate in die rots kom om die indringers aan te staar.
Op die oop see, met sy verskillende kleure van groen en blou tot by die wit skuim teen die rotse – kan jy die aarde se rondheid sien van oos na wes. Op die horison vaar ‘n passasierskip rustig op die kruin van die verdwynende see verby. Die uitsig van bo die loodreg kranse gee ’n pragtige uitsig na die helder blou poele water tussen die rotse. Derduisende mossels, alikreukel en perlemoen lê ongeskonde en beskermd vir die nageslag.
Die hut by Vaalkrans is bo-op ’n ondergrondse grot gebou, reg langs die see. Die branders slaan tot 30 meter die lug in op teen die rotse, maar die geraas en dreuning van die see en die branders maak ’n mens verbasend rustig en kalm en in jouself gekeer.
Die “killerinstinck” keer weer terug na “The Last Great White Hunter” toe sy vrou elke 5 minute ’n paar gille gee weens die teenwoordigheid van ’n hele paar muise in die huis. In die drang om sy vrou te beskerm klap die klippe met konstante reëlmaat teen die huis se mure. Twee muise word raakgeskiet en verdwyn piepend na ’n kamer waar hulle deur die nag wraak geneem het deur hul tuis te maak in die vrou se rugsak en ’n groot gat in een van haar frokkies gevreet het.
Teen sononder gaan ons hele groep na buite op die rand van die krans vir ‘n “sundowner” waar ons ook terselfdertyd die maan se opkoms oor die oseaan bewonder. Dit is volmaan. Met ‘n spierwit kol op die see kruip die maanstrale in ‘n streep nader en dans oor die altyd bewegende water in ‘n reguit pad van betowering en ongelooflike sagtheid. ‘n Sagtheid wat gaan lê op ‘n vrou se wang en in haar ragfyn nekhare. ‘n Sagtheid van maanstrale wat draai om die rondings van ‘n vrou se lyf – wat saggies streel oor haar hare wanneer sy haar hare teruggooi en haar keel ontbloot wanneer sy opkyk na die sterre – en ek verlang na my vrou en haar sagtheid – voor ek omdraai en terugkeer na die vuur waar die wind en die vlamme met mekaar wegkruipertjie speel.
Die nag slaap ek sleg, een van my oorproppe is weg en een van die mans snork en gorrel asof hy wil sterf. Die volgende oggend het ek my half-gevrete oorprop onder die tafeltjie gekry waar een van die muise al my ou oorwas afgevreet het.
5de dag: Vaalkrans na De Hoop (7km)
Geen steekvlieë, wonderwerke bestaan nog! Dit is slegs 7 km en ons moet eers 12:00 daar wees om die bus te vang. Teen ‘n slakkepas stap ons groep die laaste 7 km. Hoekom het die klomp nie so stadig gestap toe die staptog begin het nie – dan het ek nie so swaar gekry nie! Elke skulpie en gaatjie word deur hulle met ongekende belangstelling bekyk asof hulle dit vir die eerste keer sien….. en toe steek almal vas en gaan sit. 600 meter voor ons kan ons mense sien. Wat ‘n aaklige gesig, ‘n soort teleurstelling, ’n antiklimaks. Almal loop rond, swem, spartel en snorkel in die water, stel die samelewing uit. Uiteindelik vertrek ons vir die laaste 600 meter na die bus en skuifel kop omlaag by besoekers verby. Die staptog is verby!
By die bussie wag koue biere en gou praat almal in die bus ‘n hond uit ‘n bos oor die avontuur. By die karre aangekom gebeur iets onverklaarbaars vir my. Binne 60 sekondes het elkeen sy goed gelaai, gebaai en gegroet en met ‘n stofstreep die pad gevat. Ek wou nog vra: “wanneer stap ons weer?” Was dit my verbeelding? Dat daar ‘n kameraderie was vir ‘n paar dae in ons groep? LUCIDUM INTERVALLUM (Die oomblik van waarheid).
Op Swellendam in die hoofstraat sit ‘n vervelige man plat in die straat en staar my aan hoe ek op my selfoon praat. Is dit waaroor dit vir baie mense gaan in die regte lewe? Is dit al? Ek verlang terug na die branders teen die rotse, alleen langs die see.
Donker kom ek op Oudtshoorn aan vir die KKNK. Ek is geïrriteerd met die baie mense om my – dis ‘n aanpassing – mense met mense se dinge – ‘n pratery sonder ophou – oor grotendeels = KKenK!
Op Oudtshoorn struikel ek van stalletjie tot stalletjie weens my seer gout voet. Ander struikel in die strate rond weens ‘n gebrek aan balans – en op pad terug na Beaufort-Wes – daar tussen Oudtshoorn en De Rust - struikel ‘n vrou met myle se plooie op haar gesig - en sak inmekaar op die wit klippertjies langs die swart teerpad. Staar nikssiende voor haar vas in die waas van verdriet – terwyl die begrafnisstoet tussen die lae bossies van die Klein Karoo – stadig aankruie na ‘n windskeef begraafplaas teen die kant van ’n koppie.
En ons – ons wat spoortjies trap in ons eie klein wêreldjie en die geestelike sand van hierdie wye land – ons jaag voort – trap ons spore langs mekaar, op mekaar en verby mekaar. Miskien sal ander ons spore volg – wat sal hulle sien, waarheen het ons spore geloop? “My God, gee my tog die krag en verstand om die regte spoortjie te trap in die wye woestyn wat op my lewenspad wag!”
God bless
Wess